Maritha van Wyk is op ‘n koue wintersdag in die hartjie van
die Kalahari gebore. Hoewel sy amptelik Maritha gedoop
is, het haar ma haar ál meer Grietmeid genoem totdat dit
amptelik haar nie-amptelike naam geword het.
Vandat Grietmeid kon onthou wou sy altyd weet wat
anderkant die Kalahari se sandduine was. En sy kon nie
wag om finaal die Kalaharistof van haar voete te skud nie.
Dit was presies wat later gebeur het toe sy, ironies
genoeg, die Kalaharisandduine vir die woestynsand van
Doebai verruil het. Kort voor lank het Grietmeid egter begin
hunker om terug te gaan na daardie einste
Kalaharisandduine en sy mense – na ‘n tyd toe sy
ongebonde kon leef, want ‘n mens moet mos altyd eers
iets verloor voordat jy die waarde daarvan besef.
Ongelukkig is dit nie altyd moontlik om terug te gaan nie
en toe besluit Maritha op die enigste alternatief: om meer
gereeld terug te klim in Grietmeid se Kalahari-skoene en
lewe in al die herinneringe van ouds te blaas deur alles
neer te pen. En om sodoende Grietmeid se unieke
kindertyd aan meer mense bekend te stel.
Haar eerste boek, Grietmeid se Kalahari-Krismis – ‘n
Kersnovelle, is ‘n herinnering wat aanklank sal vind by
elkeen wat hunker na ‘daai jare se sosiale
Kersfeesvieringe’.